|
Die Jasper boeke wat geskryf is deur C.F. Beyers-Boshoff, vir tieners / jeug is uitgegee deur J.P. van der Walt en Seuns (Edms) Bpk van Pretoria. Die boeke is die eeste keer uitgegee in 1959 en daar was verskeie herdrukke van die gewilde kinderboeke / jeugboeke.
Boeke in die Jasper-reeks is:
1. Jasper op hoërskool. 2. Jasper die rugbyheld 3. Jasper se plaasvakansie 4. Jasper die speurder 5. Jasper en die ruimtemanne 6. Jasper die atleet 7. Jasper speel toneel 8. Jasper in die wildernis 9. Jasper op kosskool 10. Jasper in gevaar 11. Jasper se sikus-avontuur


Hier volg 'n uitteksel uit "Jasper op hoërskool" Japer-reeks nommer 1 hierdie tienerverhaal is geskryf deur C.F. Beyers-Boshoff
"Jy kan gaan doppies blaas - ek skryf g'n opstelle nie." Dit is Jasper se antwoord toe Floors wil hê dat hy wat Jasper is, 'n opstel moet skryf oor dieremishandeling. Al is hy in standerd ses en al het hy gehoor van ontgroening op hoërskool, is hy glad nie van plan om vir hierdie seun met sy kwêvoëlkuif opstelle te skryf nie.
Japer is die kêreltjie wat so omgekrap raakas iemand na sy borselkop verwys as poenskop, en wat saam met die ander drie lede van die Viermanskap, Mossie, Giep en Ferdinand, in meer as hulle regmatige aandeel aan avontuur betrokke raak.Saam soek hulle na 'n klein seuntjie wat wegraak, en saam voer hulle kleilat-oorlog teen Floors se manne. Hulle vang saam skaapdief, en hiervoor word hulle beloon; op dieselfde dag proe hulle hoe dit smaak om te rook, en hieroor word hulle gelooi.
Hierdie is die eerste titel in die Jasper-reeks. Vir enige seun sal dit ure se genot verskaf, want dit is 'n boek on te lees en te herlees. Saam met die Viermanskap is die leser bly oor die sukses wat behaal word, en saam met die vriende word daar getreur oor die brandende sitvlakke. Die skrywer (C.F. Beyers-Boshoff) het uitmintend daarin geslaag om 'n boek te skryf oor seuns vir seuns.


Hier volg 'n uitteksel uit "Jasper in gevaar” hierdie tienerverhaal is geskryf deur C.F. Beyers-Boshoff Japer-reeks nommer 10
Saam met ‘n groep kinders van Leliesvlei se hoërskool, en onder toesig van meneer Basson, is Jasper op pad na die Wildtuin. Maar op pad daarheen - en nogal op ‘n steil bergpas en in gietende reën van ‘n Laeveldse donderstorm - raak die bus waarmee hulle reis, onklaar. En lank nadat die donderstorm bedaar het, staan die logge ou rooi gevaarte nog al die tyl langs die pad, te steeks om ‘n wiel te verroer.
Intussen begin dit reeds donker word en meneer Basson word net lekker onrustig, want daar is ook ‘n hele aantal meisies in die geselskap.
Nou nie heeltemal met meneer Basson se toestemming nie, besluit Jasper en sy drie maats dat hulle die wêreld moet gaan verken en kyk of hulle nie hulp kan kry nie. En ja werklik, voordat hulle baie ver gevorder het, hoor hulle die gedreun van ‘n vragmotor wat hulle na ‘n afgesonderde plaashuis lei. Omhul deur die waas van geheimsinnigheid, lê die huis tussen die bosse, sonder ‘n lig of enige ander teken van lewe, behalwe die vragmotor wat daar staan. Jasper se kort hare het nog regopper as gewoontlik gaan staan maar hy het besluit om deur te druk met sy ondersoek. Hy is immers die leier van die Viermanskap. Maar hy moes liewer net daar omgedraai het en teruggestap het skoolbus toe. Vir hulle sou dit almal baie beter gewees het.


Jasper die speurder Japer-reeks nommer 4 hierdie tienerverhaal is geskryf deur C.F. Beyers-Boshoff
Hier is ‘n reeks skoon en gesonde boeke — vol pret, humor en avontuur wat so reg in die smaak val van elke seun van 10 jaar en ouer, om nie eens te praat van Pa en Oupa nie.
Jasper is die kêreltjie wat so omgekrap raak as iemand na sy borselkop verwys as poenskop—en dan is daar Mossie die onverskrokkene — wat vir alles kans sien. Ons maak ook kennis met Giep - die versigtige (hy is nie bang nie, net versigtig) en die slimkop Ferdinand, wat byna altyd aan ‘n plan dink as die Viermanskap in die verknorsing verkeer.
Daar is ook Floors, die seun met die kwêvoëlkuif, en sy bende wat die wêreld vir Jasper en sy vriende warm maak.
Die skrywer ken die kuns om te skryf oor seuns vir seuns en het homself in hierdie reeks oortref.


Jasper en die ruimtemanne Japer-reeks nommer 5 hierdie tienerverhaal is geskryf deur C.F. Beyers-Boshoff
By die verskyning van hierdie vyfde boek in die Jasper-reeks, het Jasper en sy drie maats geen bekendstelling meer nodig nie. Hulle is lank reeds nie meer slegs bekendes nie nee, hulle is ou en getroue vriende.
Saam met die lede van die Viermanskap is daar al baie ondervindinge deurgemaak - sommige soet, ander met so ‘n ietwat suurderige smakie. Deur sulke geringe terugslae laat die vier vriende hulle egter nie afskrik nie dit is immers wat die ou lewe interessant maak. Bowendien, geen sitvlak brand vir ewig nie, selfs nie na drie van die beste met meneer Basson se rottang nie!
Hierdie keer is die vriende egter in n groot verknorsing. Solank Jasper die stewige aarde onder sy voete voel, kan hy altyd ‘n plan maak, maar daar bo in die ruimte kan ‘n man mos g’n vastrapplek kry nie. Selfs die slimkop Ferdinand voel hier totaal verlore.
Lees ander wetenskapfiksie / fantasie verhale in Afrikaans... kliek hier


Jasper speel toneel Japer-reeks nommer 7 hierdie tienerverhaal is geskryf deur C.F. Beyers-Boshoff
Saam met die drie vriende — Mossie, die onverskrokkene, Ferdinand, die slimkop, en Giep, die versigtige — het Jasper al talle ondervindinge deurgemaak. In sommige van hierdie ondervindinge het hulle bloot toevallig beland, maar meeste daarvan het hulle gaan soek, soos enige gesonde, lewenslustige skoolseun maar maak — en dit is juis gewoonlik hierdie laaste soort ondervindinge wat op ‘n warm sitvlak uitloop.
In alles was Jasper nog altyd die onbestrede leier, maar nou lyk dit asof sy maats hom eenkant toe stoot, en dit net omdat hy nie soos ‘n meisiekind op ‘n verhoog wil gaan ronddans nie. Gits, net asof daar nie veel belangriker dinge is wat ‘n seun kan doen nie! En boonop lyk dit nog asof hulle dink hy kan nie toneel speel nie!
Jasper is egter nie iemand wat gaan sit en homself bejammer as dinge ‘n bietjie donker lyk nie. Hy het lankal geleer dat dit die heel beste is om uit te spring en iets te doen om die saak reg te stel — en soos altyd spring die klein borselkop met soveel entoesiasme aan die werk, dat hy homself, en die leser, ‘n bietjie uit-asem laat.


Jasper op kosskool Japer-reeks nommer 9 hierdie kinderverhaal is geskryf deur C.F. Beyers Boshoff
Vir ‘n lewendige seun van dertien jaar oud, is en bly die skool maar lastige ding. Jasper het egter al geleer om hom met sy lot te versoen en het net probeer sorg dat die skoolwerk nie te veel inbreuk maak op al sy ander doenighede nie.
Maar toe tref ‘n splinternuwe ramp hom: vir drie hele maande moet hy in die koshuis gaan bly en elke dag kool eet! Vir ‘n knaap wat sy eie buitekamer gehad het, wat so vry soos ‘n voël in die lug was, was dit darem ‘n gevoelige slag. Geen wonder dat hy na vele oorpeinsing besluit het dat dit soos ‘n soort tronk gaan wees nie.
Enige kosskool het reëls; dit is onvermydelik. En dit was net so onvermydelik dat Jasper hierdie reëls sou oortree en een of ander tyd met sy bas in die warmwater sou beland. Maar hieraan het hy hom nie veel gesteur nie. Daar was te veel pret om nog bekommerd te staan en wees oor die gevolge.
Jasper op Kosskool is die negende titel in die alombekende en beminde Jasper-reeks.
Hierdie reeks is bekend vir die hoe standaard wat daarin gehandhaaf word en hierdie boekie sal aan enige leser se verwagtinge voldoen.



Verskeie voorblaaie van Jasperboeke-reeks




Koop van C.F. Beyers-Boshoff se romans en liefdesverhale of Jasper-reeks

Lees ook ander kinderverhale soos :
Die Keurboslaan - geskryf deur Theunis Krogh (nie Theuns Krogh)
Die Uile - geskryf deur Cor Dirks
Fritz Deelman - geskryf deur Leon Rousseau
Die Blou Tartare - geskryf deur H.S. van Blerk

Luitenant X se Lennet-reeks
Die Swart Kat - deur Chris Sasner
Kadet -reeks
ATO reeks - Klaas van der Geest (Afrikaanse boeke)

|