http:///.www.springbokboek.co.za/admin.php
|
|
|
|
|
|
Die Frans Lindenhofreeks- Karl Kielblock Met die verskyning van die eerste Frans Lindenhofboek in 1943 het Karl Kielblock ‘n nuwe era ingelei in die Afrikaanse speurverhaal-kuns. Hierdie onverskrokke speurder is iemand met wie ‘n mens liefs nie moet slaags raak nie. Hy het ‘n neus vir misdaad - niks ontglip sy waaksame oë en fyn ore nie. Met onortodokse metodes wat sy hoofde dikwels ontstel, slaag hy keer op keer daarin om die misdadigers aan die pen te laat ry. Sy eerste Frans Lindenhofboek, Moord op Eendevlei, het in 1943 verskyn. Met die reeks se tweede druk was “Mooier as die blomme” die eerste in die reeks speurverhale om nuut uitgegee te word. ‘n Mens kan jou voorberei op ure se leesgenot met die Frans Lindenhof-reeks Hier volg ‘n lys van die Frans Lindenhofreeks soos dit nuut uitgegee was:
Die Skaam Man - uit die pen van Karl Kielblock Die bende is snags besig met hul waaghalsige en roekelose bedryf op ´n klein eensame plasie. Maar bedags beweeg hulle sonder verdenking tussen die mense in die dorp rond. Die nooi voer haar eie, gevaarlike oorloggie teen die misdadigers in ´n poging om ´n familielid uit hul greep te verlos. Matthys Deurman is die man wat hulle teen wil en dank moet pak as die nooi in die moeilikheid beland. Die feit dat hy saam met die leier van die bende onder een dak woon, kompliseer sake net nog verder. En as die bende van Deurman ontslae wil raak en hom op die trein laai terug Kaapstad toe, is dit byna die einde - veral omdat die meisie wat hy Iiefhet, agterbly. Karl Kielblock se speurromans oor Frans Lindenhof word nou nuut en as ´n reeks uitgegee. Almal wat die eerste een, Mooier as die blomme, gelees het, sal weet wat om van Die skaam man te verwag: vasgrypspanning by uitnemendheid." - stofomslag
Mooier as die blomme Elke lente lok Namakwaland se veldblomme duisende besoekers. Maar Namakwaland het iets mooier as die blomme en oneindig waardevoller - diamante Dit sou Joachem Verbeek opnuut besef toe hy ‘n heel onskuldige uitstappie na die landstreek onderneem om te gaan skilder. Kort na mekaar ontvang hy besoek van roekelose diamantdiewe en moordenaars, ‘n mooi jong meisie, en die beroemdste speursersant Frans Lindenhof. Die boewe se waardevolle pakkie diamante het weggeraak en hulle verdink Joachem Verbeek. Verbeek wonder weer of die meisie hom nie om die bos lei met haar mooi gesiggie nie en Lindenhof vertrou Verbeek ook glad nie. Hy glo vas dat Verbeek hom kan help om die diamantdiewe op te spoor as hy wil. Vir sy beswil is Verbeek verplig om soms saam met die honde te blaf en soms saam met die wolwe te huil - ‘n bra ongemaklike posisie wat soms hoogs gevaarlik word. ‘n Speurboek vol spanning en ure se leesgenot wag in “Mooier as die blomme”.
Moord op Eendevlei Alhoewel ons reeds in 1943 die eerste keer met die onortodokse speurder, Frans Lindenhof , kennis maak, word die boek (Moord op Eendevlei) as die sewende boek in die 1980’s uitgegee. Alwyn Jansen is bang vir vroumense, dit het hy lankal aan homself erken. Daarom is hy alleen op die strand, eensaam en verveeld. Maar die verveling verdwyn skielik toe ‘n vreemde meisie reguit na hom toe kom, glimlag en dringend versoek: “Moet tog nie omkyk nie. Maak of ons ou bekende is. Ek sal later verduidelik!”. As sy nou die soort nooi was wat ‘n man se oë sou laat seerkry, sou Alwyn se vrees vir vroumense miskien gered het, maar in haar baaikostuum is sy iets waarvan hy sy oë nie kan afhou nie. Daarom speel hy saam. En toe hy in die loop van die speletjie met ‘n rewolwer gedreig word en die meisie later ook net so skielik verdwyn as wat sy verskyn het, kan Alwyn hom maar net nie losmaak van die spel nie. Met kenmerkende Kielblock styl, word Alwyn Jansen se ongewone ervaring beskryf. Dit is ‘n verhaal gelaai met spanning, waarin speurvernuf getoets word deur misleidende leidrade en die uiteinde net so onverwags is as die begin.
Onder die stil waters - Frans Lindenhof -speurreeks no 3 (Karl Kielblock)
Klik hier vir ‘n lys van Karl Kielblock se boeke
Stofomslae van Onrus op Rusdal - Karl Kielblock - se Frans Lindenhof boek no 5 Die Saterdagoggend toe hulle Johannes Volk se lyk by die grotte, ‘n paar kilometer buite Rusdal, vind, begin dinge op die rustige dorpie verkeerd loop. Soos gewoontlik is dit Tjalie Herout wat die nuus verkondig. Frans Lindenhof kuier toevallig op Rusdal en toe hy Tjalie se storie hoor, voel hy dadelik sy speurdersinstink roer. Volk het glo by Vlooibaai in die see geval terwyl hy visgevang het. Sy lyk moes dus wind op gedryf het na die grotte toe, en dit laat Lindenhof wonder of Johannes Volk se dood werklik ‘n ongeluk was. Volk se stiefbroer, Piet Overstein, is ook op Rusdal - en nie toevallig nie. As hy en Lindenhof dan vind dat Volk se kamer deursoek is, besluit hulle om in alle erns ondersoek in te stel na Volk se dood. Die saak is egter vol raaisels. In die eerste plek weet niemand wat Volk op Rusdal gesoek het nie. Daar is dan ook nog die geheimsinnige stemme by die grotte wat op eksentrieke oupa Schiepert se grond geleë is. En is Schiepert se drie beeldskone kleindogters werklik so onskuldig as wat hulle voorgee?
Moord op Kroonbaai- - Karl Kielblock - ‘n Frans Lindenhof speurverhaal Toe Sirke Ludeke, vermink in ‘n motorongeluk en verstoot deur sy verloofde, op Kroonbaai gaan woon het, was sy plan om ‘n kluisenaarslewe te voer. Maar hoe kan mens ‘n kluisenaar bly as jy ‘n kamer instap en daar op die lyk van ‘n pas vermoorde man afkom? Dit is in hierdie stadium dat Frans Lindenhof, bekende speurder in Karl Kielblock se verhale, op die toeneel verskyn en al die brokstukke in ‘n betekenisvolle patroon begin val: die koms van die aantreklike Anna Storm na Kroonbaai, die geheimsinnige Flecks, die bedrywigheid van Duitse duikbote aan die kus, en nog veel meer. Die ontknoping is so vindingryk soos net Kielblock dit kan doen.
Moord op Geitjieskop - Frans Lindenhof verhaal (no 4) Dis lekker om sommer uit die bloute ‘n fortuin te erf, maar as dit soveel moeilikheid meebring, wonder Eberhard Wolheim of hy nie maar sy erfenis moet prysgee, die stil Karoodorp moet verlaat en teruggaan Kaap toe nie. Dit is afgunstige familielede, ‘n teleurgestelde vrou, naamlose briewe en selfs twee aanslae op sy lewe! Eberhard bevind hom in ‘n maalstroom van haat en nyd. Hy sien dat gelddors en wraaksug die skynbaar onskadelikste mense tot vreeslike dade kan dryf. En te midde van al sie ellende is daar ‘n mooi nooi wat met hom niks te doen wil hê nie... Maar Frans Lindenhof is ook op Geitieskop en hy is vasbeslote om die moordenaar va te trek. Saam met die weer, bou die gebeure op tot ‘n donderstorm-klimaks Lees ook Alex Muller se speurverhale - speurder Adriaan Kruger Lees ook die Klub 707 speurreeks (sluit ook James Bond in) Lees ook die van der Walt-speurreeks
Die vete Toe Pierre Rahberg vir die eerste keer in sy lewe op sy oupa se plaas Rooivlei kom, beland hy meteens in die middel van ‘n on familievete. ,,Meer as vyftig jaar haat die Boetsemas en die Rahbergs mekaar en daar het al snaakse dinge gebeur” — so het sy niggie Mercia vir hom die situasie opgesom. Op die oomblik is die twisappel die dam wat die Rahbergs van plan is om in die rivier tussen die twee plase te bou. Pierre wil nie graag in die ongure twis betrokke raak nie, maar sy afgeleefde oupa maak staat op hom : hy moet sorg dat die damwal opgerig word, anders gaan die Rahbergs se boerdery op Rooivlei weens gebrek aan water tot niet. Daarom besluit Pierre om die taak aan te durf, selfs al wil die drie fris, jong Boetsemas op die buurplaas hom dwarsboom, en sells al beteken dit dat daar nou niks sal kom van ‘n vriendskap met die bekoorlike Phylida Boetsema nie. Voor die wind gaan dit nie. Reeds die eerste dag moet Pierre vir geweerkoeëls koes. Daarna tref een ramp na die ander die Rahbergs, sodat Pierre soms wonder of dit alles net kwaadwilligheid van die Boetsemas kan wees. Steek daar dalk waarheid in sy ma se bewering dat die Rahbergs self ‘n nare klomp mense is? En is Mercia se stiefbroer, die half mal wetenskaplike Leonidas, werkIlk so onskuldig as wat hy lyk? Pierre is ‘n jong man wat byna in elke situasie goed van homself rekenskap kan gee, maar as speurder Frans Lindenhof nie ‘n handjie kom bysit het nie, was die damwal dalk letterlik oor sy dooie liggaain gebou.
Lees meer van die Lafras Cuyper reeks
Lees meer van Karl Kielblock se ander boeke Klik hier vir ‘n lys van Karl Kielblock se boeke
Lees ook Alex Muller se speurverhale - speurder Adriaan Kruger Lees ook die Klub 707 speurreeks (sluit ook James Bond in) Lees ook die van der Walt-speurreeks
|